Storie oor prof MCB vanaf Oupa Tienk

[p. 115]

Marthinus Christoffel Botha
(George, 26 augustus 1886 - Kaapstad, 3 januari 1959)

Met die dood van professor Botha op 3 januarie 1959 het die volksopvoeding in Suid-Afrika 'n groot verlies gely. In sy veelsydige bedrywighede het die bevordering van enger kulturele betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika 'n groot rol gespeel. As lid van die Algemeen Nederlands Verbond en die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde het hy ook vir Nederland betekenis gehad en sal lesers van hierdie tydskrif dit miskien interessant vind om meer te wete te kom van hierdie groot en diensvaardige Afrikaner.

Marthinus Christoffel Botha is gebore op 26 augustus 1886 uit 'n arm huisgesin op die boereplaas Gwayang in die distrik George in die suide van Kaapland. Op vyfjarige leeftyd is hy na die dorpskool op George waar die onderwys destyds deurgaans Engels was en die klein Botha dit uiters moeilik gevind het om die onderrig deur middel van 'n vreemde taal te volg. Einde 1896 was sy onderwys in die laer skool afgeloop en moes hy probeer werk soek omdat sy ouers dit nie kon bekostig om hom na die middelbare skool te stuur nie. Die werk wat hy eindelik gekry het, was dié van touleier by die ossewaens wat handelsware vervoer het van Mosselbaai na George en verder ook na Oudtshoorn oor die steil Outeniquaberge. Dit was bitter dae en nagte vir die jong knaap om oor dikwels ongebaande weë die ossespanne te lei sodat die transportwaens hulle vrag veilig op hulle bestemming kon besorg. Hierdie tydperk van sy lewe het 'n diep indruk op sy kindersiel gemaak en selfs in sy laaste dae nog het hy graag vertel van die gevaarlike avonture wat hy as touleier voor die skerp horings van die osse agter hom belewe het.

Weldra het die skrander seun besef dat hy vir iets beters as touleier bestemd was en het hy hom bemoei om 'n betrekking in die poskantoor op George te kry. Hier het hy vier jaar lank gewerk en deur noeste vlyt en pliggetroue arbeid 'n uiters bekwame telegrafis en posmeester geword. Met die geld wat hy so gespaar het, is hy na die middelbare skool op George vir verdere studie en toe sy geld opraak, het hy as onderwyser vir vier jaar op verskillende plaasskole in die omgewing onderwys gegee. Hierdie ondervinding was van groot belang vir sy eie opvoeding en, soos hy later dikwels getuig het, het hy seker net soveel geleer as sy skoliere.

Sy spaarpennings het hom in staat gestel om weer in 1909 die middel-

[p. 116]

bare skool op George te besoek, waar hy einde 1910 die matrikulasie-eksamen met hoë onderskeiding afgelê het. As gevolg van sy sukses het hy 'n studiebeurs ontvang van die Victoria Kollege op Stellenbosch waarheen hy begin 1911 gegaan het vir universiteitstudie. Hier het sy groot intellektuele gawes en sy gerypte persoonlikheid hom weldra tot leier van die studente gemaak en is hy gekies as voorsitter van die studenteraad, voorsitter van die Christelike vereniging vir studente en voorsitter van die Unie-debatvereniging, destyds bekend as die kweekplaas van goeie sprekers. Einde 1914 het hy die baccalaureusgraad (B.A.) verwerf en daarna tot einde 1917 met groot sukses onderwys gegee in verskillende middelbare skole in Wes-Kaapland. Begin 1918 is hy aangestel as lektor in Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. As dosent het hy verder studeer en einde 1919 die magistergraad in Nederlands met onderskeiding behaal. Begin 1921 is hy verhoog tot professor in Nederlands en deur sy ywer is Afrikaans as deel van Nederlands in die Universiteit ingevoer, sodat sy leerstoel sedert die middel van 1922 bekend staan as die leerstoel vir Nederlands en Afrikaans. Tussen 1921 en 1923 het hy, in samewerking met skrywer hiervan, drie leerboeke oor die Afrikaanse taal en styl in die lig gegee en hierdeur veel daartoe bygedra om die jong ontluikende skryftaal op gesonde en hegte fondamente te plaas.

Beide as onderwyser en as dosent het hy hom sterk beywer vir die volksopvoeding in die algemeen en het lid geword van die onderwysvereniging van Afrikaanse onderwysers in Kaapland (die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie). Hier het hy hom onderskei deur sy helder oordeel en besadigde voorligting sodat hy spoedig tot voorsitter van die vereniging gekies is.

Tot 1912 was die skole in Kaapland almal sogenaamde ‘Engelse’ skole, d.w.s. die enigste medium van onderrig was Engels; maar daarvandaan het die Afrikaners hulle sterk begin beywer vir moedertaalonderwys in die openbare skole. Onder die voorvegters vir Afrikaans as voertaal by die onderrig van die Afrikanerkind was natuurlik ook professor Botha. Grootliks as gevolg van sy leiding het die Afrikaanse Hoërskool Jan van Riebeeck begin 1926 tot stand gekom. Vanselfsprekend is professor Botha tot voorsitter van die skoolkomitee deur die ouers van die leerlinge gekies. As voorsitter tot midde 1929 het hy veel gedoen om die grondslae van hierdie inrigting so heg te lê dat dit vandag in die hart van die Engelse stad een van die beroemdste skole

[p. 117]

en die trots van die Afrikaners in die hele Kaapland geword het.

Midde 1929 het professor Botha die hoogste sport op die onderwysleer in Kaapland bereik: hy is benoem tot Superintendent-Generaal van Onderwys in Kaapland. As sulks het hy onderwyshoof geword van 'n geweldig uitgestrekte grondgebied met 'n groot verskeidenheid van volksgroepe, rasse en tale; en vir die bevredigende opvoeding van hulle almal moes hy verantwoordelik wees. So'n taak vereis 'n groot mate van organisasietalent en dit het professor Botha gelukkig in 'n hoë graad besit. Die departement van onderwys het sy ferme hand en inspirerende leiding bespeur en gedurende sy ampstermyn - ongelukkig te kort - is heelwat uitbreidings en verbeteringe aangebring en sy rustelose werkywer het nog ander gebiede gesoek om te verower. So het hy gedurende hierdie tydperk ook vise-Kanselier van die Universiteit van Suid-Afrika en voorsitter van die matrikulasieraad geword, d.w.s. van die raad wat die toelatingsvereistes vir die universiteite vasstel.

Begin 1934 het hy die Kaaplandse onderwysdepartement verlaat om sekretaris van die minister van onderwys te word. In hierdie hoedanigheid het hy dit te doen gekry met allerlei soorte onderwys, behalwe laer en middelbare onderwys (wat deur die verskillende provinsiale departemente behartig word en nie deur die minister nie) en kon hy bewys lewer van die verbasende veelsydigheid van sy gees deur die sukses wat hy op elke gebied van die veelsoortige onderwys behaal het.

Toe die Unie-regering in 1936 besluit om die radiowese, wat toe nog 'n private onderneming was, 'n regeringssaak te maak, kon hy geen beter voorsitter vir die radioraad as professor Botha kry nie. Ten spyte van sy menigvuldige pligte as sekretaris vir Unie-onderwys het hy die radiowese deur sy moeilike aanvangsjare en die eerste kritieke oorlogsjare so deeglik en verstandig geloods dat die groot Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie vandag nog die weë kan volg wat sy eerste vèrsiende voorsitter gedurende die jare 1936-1942 afgebaken het. As erkenning vir sy groot dienste aan die volksopvoeding het die Universiteit van Suid-Afrika in 1937 die eregraad D. Litt. aan hom toegeken.

Die Universiteit van Pretoria het voor hierdie tyd reeds verskeie vertoë tot die minister van onderwys gerig om 'n mediese fakulteit met Afrikaans as voertaal aan genoemde universiteit te stig. Die minister het 'n kommissie saamgestel om op die saak in te gaan en as voorsitter van die kommissie sy sekretaris vir onderwys benoem. Die kommissie het sy verslag in 1939 uitgebring en aanbeveel dat 'n Afrikaanse mediese

[p. 118]

fakulteit aan die Universiteit van Pretoria broodnodig was. Toe die rektorskap aan genoemde universiteit vakant raak, het die keuse van 'n nuwe rektor vanselfsprekend op die voorsitter van die kommissie geval. Van 1941 tot 1947 het rektor Botha met vaste hand die universiteit deur die moeilike oorlogsjare geloods, fondse oor die hele land ingesamel en die mediese fakulteit begin 1942 van stapel gestuur. In die Afrikaanse mediese fakulteit het professor Botha eindelik vir hom 'n sigbare monument opgerig as blywende aandenking aan sy veelvuldige en geseënde dienste wat hy in 'n vrugbare lewe aan sy volk gelewer het. Dit was vir hom bitter swaar om op een-en-sestigjarige leeftijd afskeid van sy lewenstaak te neem. Werkloos kon hy nie wees nie en sy rustelose gees het na nuwe arbeidsvelde gesmag.

Onder invloed van Generaal Smuts en dokter J.H. Hofmeyr, vir altwee van wie hy 'n groot bewondering gekoester het, het hy hom ongelukkig op politieke terrein begewe en hom in 1948 as kandidaat vir die Smuts-party op sy geboortedorp George verkiesbaar gestel. Maar die talent en ervaring wat hy op onderwysgebied in so'n hoë mate besit het, het hy in die politiek kort gekom. Hy is in die verkiesing verslaan en weens sy politieke bedrywighede het daar verwydering tussen hom en sy Afrikanervriende gekom. Hy was nou feitlik werkloos. Wel het hy by 'n uitgewersfirma 'n betrekking gekry om alle Afrikaanse uitgewas van die firma te redigeer en het hy weereens opgetree as voorsitter van 'n kommissie om die Kleurlingonderwys in Kaapland te ondersoek (1954-1956), maar vir 'n man van sy formaat was dit geen bevrediging nie. Selfs die eregraad L.L.D. aan hom in 1950 toegeken deur die Universiteit van Kaapstad was maar 'n verbygaande troos. Sy lewe na buite het al meer vereensaamd geraak en hy het hom in sy laaste jare altyd enger aan sy vrou en kinders aangesluit, waar hy nog die geluk kon smaak om die sukses in die lewe van sy vier begaafde seuns en sy lieftallige dogter te belewe. Na 'n kort siekbed is hy op 3 januarie 1959 in Kaapstad oorlede as gevolg van bloeding op die brein.

 

J.F. Burger.